Golf In The Countryside – Dis Lekker In Die Boland

Article by: Marzanne Van Lill – Dames Kaptein Wellington Golf Klub

Wellington se dames dag is tradisioneel die eerste Donderdag in April elke jaar.  Ek glo die gereelde spelers wat daarin speel weet dit al teen hierdie tyd want weereens was ons dag letterlik binne minder as twee weke vol bespreek met wag lyste indien daar onttrekkings sou wees.  Ek wens ons kon almal akkommodeer maar op ‘n 9-putjie baan is dit ongelukkig nie moontlik nie.  Ons gebruik ‘n “better ball” formaat maar ons het hierdie jaar besluit om ‘n kinkel in te bring net om dit anders en meer uniek te maak.  Ek en nog ‘n paar van ons Wellington dames het vroeër die jaar in Kuilsrivier se Cabernet dag gespeel en hulle dames het hierdie formaat gebruik.  Ons het dit baie interessant en uitdagend gevind en besluit om dit in ons eie dag te gebruik.  Jy moet ‘n keuse maak tussen ‘n “better ball, multiplication of addition” na afloop van die gat wat jy gespeel het.  Jy moet 6 van elk oor die 18 gate gebruik en so aandui op jou telkaart.  “Watch this space” vir volgende jaar se formaat.

Met elke groot golf dag op die kalender is daar altyd uitdagings en soveel meer by ‘n klein klub met slegs ‘n paar dames lede.  Ons is egter so bevoorreg met die ongelooflike ondersteuning wat ons kry van ons klub en sy lede om van ons dames dag ‘n groot sukses te maak.  Almal speel ‘n rol, vanaf die baan personeel, kroeg personeel, skoonmakers, kombuis personeel, lede en spesifiek die spelers op die dag wat ons ondersteun.  Spelers kom letterlik van oral… Bredasdorp, Langebaan, Moorreesburg, Kuilsrivier, Paarl, Stellenbosch, Somerset-Wes, Milnerton, King David ens.

Ons poog om vir elke speler ‘n unieke ervaring te gee en ook om kwaliteit en waarde vir geld te bied.  Ek het al in talle groot golf dae en dames dae spesifiek gespeel.  Nêrens kry jy die gasvryheid en oop harte en hande wat jy kry by die kleiner klubs soos Wellington, Bredasdorp en Moorreesburg om net ‘n paar te noem, nie.  Buiten vir die feit dat jy verseker nie honger of dors sal huis toe gaan nie, maak ons ook seker dat elke speler met ‘n prys huis toe gaan.  Ons is bevoorreg om borge en lede te hê wat ons elke jaar ondersteun.  Dit is vir ons belangrik om spelers welkom te laat voel en seker te maak dat hulle, hul dag geniet.

Verseker het ons ook hier en daar ‘n probleem of twee ondervind op die dag maar dit is professioneel en vinnig uit gesorteer deur ons bekwame personeel. Die groot wenner op die dag is die vriendskappe wat gemaak word tussen die vroue en dat ons ‘n passie kan deel op die dag, maak nie saak wat jou voorgee is en hoe goed of swak jy speel op die dag nie.

Die twee spelers (Yolana Kinghorn van Paarl en Lisa Henn van Wellington) wat as wenners gekroon is, het ‘n eie unieke storie.  Beide hierdie spelers se speel maats het onttrek en ek moes noodgedwonge vir Lisa, ‘n matriek leerling vanjaar skuif na Yolana se vierbal.  Die twee ken mekaar natuurlik van geen kant af nie, en dit was ook Lisa se eerste dames dag waarin sy deelneem.  Ek het egter geweet Yolana sal haar op haar gemak laat voel.  Wie sou kon voorspel dat hulle gemaklik eerste sou kom.